Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Blom van die Baaierd " (8) deur D.J. OPPERMAN
" Blom van die Baaierd " (8) deur D.J. OPPERMAN [boodskap #58592] Wo, 13 Maart 2002 15:10
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

Blom van die Baaierd (8)

"Ek kyk met jou weer in jou klipkasteel
deur teleskoop na die heelal:
sien parakiete en kanaries, groen en geel,
in God se groot kou val
en oopvlerk tussen skoppelmaaie van Sy hemel speel.

"Jy lag! Jy wat die wêreld ken en koop
en telkens sien deur ander drome!
Jy wat, vermoeid van Isabellas, drink en dagga rook
en lyf ná lyf reeds so volkome
weet hoe straal die Syn in al sy vlakke oop!

"Jou ou en nuwe oë sien al meer astrant
hoe vals en flonkerend alles is:
die mens het glo in God en Anderkant,
in reg en werklikheid hom eeue lank misgis -
skimbeelde wisselend na lyf en die verstand!

"Al word ek in die stryd selfs oopgevlek
dat al wat heilig is in my, verdwyn,
ek moet die Bose in dié buurt belet
en my deur selfvernedering en pyn
opoffer en die Brakfonteiners red."

*

"Wil jy die vriend nog van jou jeug behou
al kan jy, Koen, nou ryk en regop loop?
Help my dan as dankoffer hier 'n kerkie bou;
ek vra slegs dat jy klippies van my koop -
juis jy, want jou alleen kan ek vertrou."

Die nag toe hulle op die bult mekaar ontmoet
en die geheime speurders nader tree,
klap koeëls deur Broeder Ben se bors en voet...
"Lama, lama sabagtani" .......
en uit rewolwerwonde druppel bloed.

(word vervolg)
Vorige onderwerp: "Blom van die Baaierd (7 ) deur D.J. OPPERMAN
Volgende onderwerp: "Blom van die Baaierd (9) deur D.J. OPPERMAN
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Mei 11 08:35:39 MGT 2024